HUNKERING ( Taal: AFRIKAANS )
lê daar nog iewers
op die vlakte eensaam,
soos ‘n molshoop in die reën
humusverrykte korrelnat donkergrond
van jare gelede se seën ?
is daar iewers nog
‘n groen
gevoed deur wateraar,
pompfontein
waar kwepergeel en persturksvy
skadu’s gooi teen ‘n rooi skemerduin ?
staan daar nog iewers rye sipresse
wat soos windpompe nuwe lug verslind
waar ons koes-koes as kind gespeel het
tussen stil grafte en ruwe wind ?
waai daar deur kameeldoringbome
met ritseling wat op jou kussing klink
die vierrigtingwinde,
paddas uit die lug
glasskerwe wat op ‘n sinkdak blink ?
woon daar nog iewers op die vlakte
nederig,
soos ‘n slak in sy dop
mense wat in koue ysig sneeuweer
deur oopmaak,
sou jy om middernag klop ?
waar is die bybel, kerslig en handevat
waar is bakbrood, botter, die vleis sopbeen ?
waar is die mieliepap,
warmte en liefde
sê my, asseblief, waar is die vlakte heen ?
Geplaatst in de categorie: moraal