Blomme
Ek kom om 'n kransie van rou te breng,
Op kindergraffies 'n traan te pleng.
Maar kyk, dis 'n fees wat my oog gewaar
van blommetjies, blommetjies aanmekaar,
op ranke stingel oor graffie en steen –
soos graan op die lande, aaneen, aaneen;
soos kindertjies selwe in feesgewaad,
in hupp'lende dans op die windjie se maat;
spierwit hul kleertjies en roserooi –
die sonlig se glans op hul hemelse tooi.
O, moedertjies wat in die verte nog ween
om blompies ontnome, wat God had geleen,
kom kyk, uit elkeen en elk bittere traan
is 'n heldere blompie weer opgestaan.
Dis net of die Vader sê 'Vertrou!
My blomme sal groei oor die kranse van rou,
Ek gee weer terug wat gegee is aan My:
waar blomme gesaai is, sal blomme gedy.'
Inzender: Redactie, 2 juni 2016
Geplaatst in de categorie: oorlog