Die stem van die verte.
So's temend geprewel van stille gebede
kom stemme van ver, waar die awend-rood kwijn,
waar die rande in sterwende glanse verdwijn
en 'n nagalm nog sleep van d' skeidend verlede,
- so's klagte vergete, maar klagend tevrede.
En berustend ook voel ik mij siel als gedra'e
naar d'Eeuwigheid heen, op die loom-lange sla'e
van 'n vo'el o'er die veld op sij huiswaartse vlug,
- gedra op die windje se swijmende sug.
Vergange se da'e kom verbij voor mij oo'e,
gesigte verdwene en stemme gesus,
so's weerklankies nog van vergetelheids kust.
- En die weerlig vlam ver in 'n wolk wat daar rus,
so's snikkies nog mokkend, na trane gedro'e.
Uit die dorpie benee'e ruis op tussenbei'e
geluide en laggies van wereldsbeweeg;
en so sal 't nog wees als mij plekkie reeds leeg,
mij skamele kleinte van d'aarde geskei'e
versink in die kolke van d' groot-eeuwig swij'e.
En mij groet stuur 'k dan mee als die a'endstraal se vure
so blink in die ruite en droom op die mure;
mij huisie se gewel sal 't opvang van verre,
- 'n laggie sal 't wees, maar 'n traan sal 't bêre!
Die vlakte en andere gedigte (1908)
Schrijver: Jan F.E. CelliersInzender: Redactie, 26 februari 2016
Geplaatst in de categorie: afscheid